-etse-

Tags

, , , , , ,

-etse-

statistieke stippel
donker etse
op staafgrafiek
graveure wat verloop van vaderlandsgeskiedenis
karteer
refleksie wat toekoms
suggereer.

demografie verdoem
bevolkingsgroep
pixels in die groter beeld
besig om te verbleek.

bankrotskap bedreig
kulturele inventaris
moedertaal verroes en vervaag
terwyl
tradisie in onbruik verval.

En my hart roep uit, “My God, mag U genade hê met my stam!”

©Kopiereg Micelle Coetsee 2017

[Nota: bogaande vrye vers is in reaksie op ‘n artikel deur Flip Smit in die naweek BEELD, getiteld “Minder wit Afrikaanses maak steeds verskil”.]

Advertisements

Verlange onbeskryflik groot

Tags

, , , , ,

IN DIE HOëVELD
deur Toon van den Heever

In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar ‘n mens nog vry kan asemhaal en aan ‘n God kan glo,
Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
Van winde op die Hoëveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
Sawens as ek bees of skaap toe ry.

Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(Die ylblou bring ‘n knop dan in jou keel)
Staan my huisie nog en wag vir my, wag al ‘n jaar of tien,
Waar die bokkies op die leigrafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek kleiosse gemaak het as ‘n kind.

Ai oom Toon, vandag bring hierdie woorde van jou ‘n bewing diep binne my. Die fladder vlerke van ‘n gewonde voël. Daar lê dalk sewentig somers tussen ons, maar die versugtiging van die hart is dieselfde. Ek neem jou woorde op leenbruik in solidariteit met diegene wat hunker na ‘n wêreld wat uit die natuurlike voortspruit.

In die Bosveld, waar dit oop en wyd is,
En die kuddes koedoes en rooibokke wei oor die veld,
Waar ‘n mens nog vry kan asemhaal en aan ‘n God kan glo,
Staan my huisie, wat ek moes verlaat as gevolg van geld.

Vasgevang in die doolhof van die stad, sit ek en droom
Van groen ruigtes in die Bosveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geknars van my stewels, in die namiddag loom,
As ek my stap in die rigting van bokkrale kry.

In die Bosveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(Die ylblou bring ‘n knop dan in jou keel)
Wag my huisie nie meer vir my, meer al as ‘n jaar of tien,
Maar die bokke in die groen ruigtes, bly steeds teel.

Maar as die verlange veel word en ek my ore teen die stadslawaai sluit,
Dan sweef ek na die Bosveld op die wind,
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek die skerwe van my hart poog vind.

tydstippel 1

Tags

, , , ,

 

FILAMENTE van lewe

FYN VERWEEF tot

uitstippeling van unieke VERHAAL

Is geen bysaak, randverskynsel,

allermins banaal.

KONFIGURASIE vir naatlose

metamorfose.

Tydkring primordiaal.

 

Iedere tydstippel

ryklik geskakeerd.

Nuanse op nuanse

kaleidoskoop,

ontvouing van lewensbeloop.

 

vlietend

in die wink van ‘n oog,

verruil NOU plekke met

GISTER,

MôRE met VANDAG,

verenigd

in ‘n isokronies tydsboog.

 

Seisonale ontknoping

keer op keer,

Verstryking.

Vervulling.

Voleindiging…

                                                VOLBRING.

 

©Kopiereg Micelle:Coetsee 2017

 

 

…en al wat ons kan doen is BLOEI

Tags

, , , ,

 

Oktober 2008

Pretoria-Noord, Gauteng

Suid-Afrika

Die kar is gepak vir my uittog plaas toe, Bosveld toe. Die afgelope nege maande het ek myself voorberei vir hierdie dag en dit is met versigtige optimism wat ek hierdie nuwe fase van my lewe aanpak. Dit was nie ‘n oorhaastige of impulsiewe besluit nie, maar die natuurlike verloop van my keuses op my lewensreis tot dusver.

Ek skroef die deksels op my reis koffiebeker en stap een laaste maal deur die huis wat die afgelope agt jaar my tuiste, veilige hawe en werksplek was. Ek maak seker dat al die vensters en deure toegemaak en gesluit is waar nodig. In die ingangsportaal met sy hoë, deursigtige dak raak ek vir ‘n paar oomblikke stil om te reflekteer wat agter my lê en myself te posisioneer vir die roete wat voor my lê. Ek het vanoggend nogmaals wakker geword met swaar, gietswart wolke wat neerdrukkend oor die woonbuurt en stad hang, wolke wat niks met weersomstandighede of besoedeling te doen het nie en alles  met die geestestoestand van die Hoofstad. Oor die laaste paar maande het die wolke week vir week meer onheilspellend oor die stad in geskuif totdat die eteries nou totaal en al onder die bedekking is. Duisternis het hier oorwin.

Daar is nie tyd vir swaarmoedigheid en neerslagtigheid nie. My seisoen hier is voleindig. Dit is nou tyd om vorentoe te beweeg.

 

April 2009

Plaas Hebron, Naboomspruit distrik

Limpopo Provinsie

Suid-Afrika

Ons skuif ons bene lank voor ons uit en maak onsself gemaklik op die rusbank, elkeen met ‘n beker fonteinwater in die hand. Die vallei lê ruig en groen voor ons, luim in die namiddag son. ‘n Paar los wolkies dryf deur die helderblou lug en die reuk van die bosveld sweef op ‘n bries die rondawel binne. Veraf blêr ‘n bok terwyl swerms Sysies oor die grasvelde dartel.

Sy het stilte en rus kom soek hier op die plaas, die gejaagdheid van die stad vir ‘n paar dae verruil vir die afsondering en vreedsaamheid te vinde in hierdie stukkie paradys.

Ons praat nie, vergenoegd met mekaar se teenwoordigheid. Ons drink diep van die stilte, die skoonheid van die landskap, die maagdelike lug.

Haar stem breek deur die magiese newels… “Tannie Marais keer my vanoggend voor terwyl ek besig was om die kar te pak. Sy wou weet waarheen ek oppad is. Ek sê toe dat ek vir ‘n paar dae hier by jou kom rus. Sy vra of jy iets weet van die donker wolke wat Pretoria bedek? Weet jy waarvan sy praat?”

Ek knik my kop. Ja, ek weet. Ek wens ek het nie geweet nie, maar ek weet. Ek het dit agtergelaat vir nou, maar ek weet nie vir hoe lank nie, ook nie waar ek dit volgende mag vind nie. Vir nou sit ek onder ‘n hemel waar die voorhangsel weggeskeur is, waar ek onbeperkte toegang tot die bron van lewe het…en ek drink, ek drink diep.

 

Januarie 2011

Pretoria-Noord, Gauteng

Suid-Afrika

My bui is so donker soos die wolklaag. Die atmosfeer in die Hoofstad is needrukkend en my gemoedstemming weerspieël dit onvervals. Ek is opstandig oor die feit dat my reis my teruglei na hierdie plek en elke filament van my menswees rebelleer.

Toe die oproep kom dat ek moet terugkeer na die stad, verset ek myself, ek praat teë en ek probeer onderhandel. Ek baklei, ek gedreig, ek teken protes aan…maar dit bring my niks in die sak nie. Ten einde laaste blaas ek die aftog en aanvaar die onvermydelike. Ek roep ‘n kortstondige bloeitydperk vaarwel toe. So verruil ek hemelse plekke vir ‘n rowerspelonk.

Ek het nie omgekyk nie – kon dit nie waag nie. Kop omlaag met my oë op die grond kom ek myself weereens skaar onder die newels van leuens, verleiding en wellus, in ‘n wêreld waar integriteit, eerlikheid en omgee geen waarde meer het nie. Ek kom terug na ‘n wêreld waar ek geen waarde of plek het nie.

Ek kom soek aanvaarding. Aanvaarding dat dit die plek is waar ek nou swerf. Aanvaarding dat hierdie donker wêreld nou my leefruimte is. Aanvaarding van die donkerte binne in myself.

 

Augustus 2017

Waterkloof, Pretoria

Suid-Afrika

Dit is skemer binne die kunsgalery. Die enigste lig die van klein kolliggies bokant die kunswerke wat yl verspreid teen die mure hang. Ek beweeg tydsaam tussen die verskillende werke, vertoef ‘n paar oomblikke by elke uitbeelding om die stemming daarvan aan te voel, tegniek te ondersoek, gedagtegang te traseer.

My oog gly oor titel…We Have A Farm in Africa.

‘n Trilling in my borskas. Asem stol in keel.

Stadig beweeg my oë na die doek en vind… gitswart wolkbedekking oor ‘n landskap vernietig deur kommersialisme, gestroop van natuurlike prag, ‘n plaaswoning afgesny van die res van die wêreld deur grypsugtigheid.

My wond bloei vars bloed.

Deur traannewels bly ek staar na die verskroeide aarde. In grafiethale ingekrap op papier lees ek die pyn, trane en verlies van nog ‘n ontreddene wat beur onder die donker wolk van meedoënlose ryksbouery, vind ek ‘n tweeling wond.

En al wat ons kan doen is BLOEI.

 

©Kopiereg Micelle Coetsee Augustus 2017

 

 

 

 

 

 

 

AFREIS

Tags

, , , , , , ,

23 Oktober 2011

Pretoria-Noord, Suid-Afrika

Dit was ‘n lang en harde reis tot hier op die hoogste piek van die berg. Waar ek van hier afkyk in die vrugbare vallei ver onder my, vertrou ek dat my reis deur die woestyn met al sy uitdagings, hindernisse en opofferings, die moeite werd was. Agter my lê die onherbergsame vlaktes van die land wat ek die afgelope vyf en twintig jaar deurkruis het. My ontberinge lê nog voorop in my gedagtes en herinneringe laat trane in my oë opwel. Daar was goeie dae en daar was minder goeie dae en dan was daar  dae wat ‘n hoë tol van my geëis het. Elke dag met ‘n doel van sy eie. Elke ondervinding ‘n eiesoortige leerproses. As ek die wysheid en insig bekom deur my tog in berekening bring, dan weet ek dat elke oomblik inderdaaad betekenisvol was.

Met afwagting kyk ek uit oor die vallei, dankbaar dat ek wel die rand van die nuwe wêreld bereik het, die landskap waarheen my hart my met geweld gedwing het.

Ek kyk een laaste maal terug na die woestynstreek wat ek agter laat, reflekteer op die reis wat my tot hier gebring het. Dit was ‘n omswerwing wat ek met die swaard in die hand afgelê het, opsoek na oorwinning oor draak en demoon, elke tree afgelê in geloof met die strewe om te groei en te oorwin sodat ek my weg kon vind na my hartsland.

My afreis het begin met ‘n intense begeerte om my lewensreis meer vry en ongehinderd deur die saamdra van onnodige bagasie, af te lê. Dit het ‘n reeks gebeure ontketen wat ek nooit sou kon voorsien nie. En sou ek die gebeure op die horison gewaar het, sou dit my moontlik oortuig het om my soeke en my reis te staak.

My reistog het my deur water en vuur geneem, deur kloof en woestyn, deur nou drukgange en brandende brûe wat omdraai ontmoontlik gemaak het. Ek moes dit wat ek kosbaar geag het, mense wat ek liefgehad het, aktiwiteite wat ek geniet het, agter laat, aflê of opgee tot ek gestroop was met niks meer om te verloor nie. Uitgepluis, het dit my die outonomie gegee om enigiets aan te pak of aan te durf, om enige geleentheid wat dit self voordoen, aan te gryp. Ek kon nou net wen en niks meer verloor nie. Onverskrokke het ek elke uitmergelende tree afgelê. Niks kon my meer keer in my strewe na my doelwit,nie. Ek kon nou waag sonder om roekeloos te wees.

Ek draai terug na die smal voetpad voor my en met ‘n ligte beweging laat ek die ou verweerde mantel van my skouers afgeglip, nou gretig om die reis af in die vrugbare vallei in, aan te pak, my littekens my toegangs- en padkaart.

23 Oktober 2016

Centurion, Suid-Afrika

Vyf genadejare voltooi. Vyf jaar van versigtig my pad deur die vrugbare vallei vind. My rugsak lig en gemaklik om te dra. My swaard het ek verruil vir ‘n snoeiskêr en ‘n skoffel, my wapenrusting vir waterstewels en ‘n sonhoed. Ek kom nie om die vallei binne te val en te beset nie. My missie is een van vrede, gemeensaamheid en samewerking. My oogmerk is nie om, om te gooi en af te breek nie, maar wel om op te bou, aan te plant en te herstel. My oorlogskreet is vervang met ‘n vredeslied.

My hart verlang na ‘n stad wat ek kan bewoon, ‘n plek wat ek my tuiste kan noem en ‘n groep mense waar ek my stam kan vind. My hart verlang na ‘n holte waar ek rus kan vind, gemeenskap kan beleef, liefde en versorging kan gee en ontvang.

Met ‘n oop hand en ‘n sagte hart vind ek my weg deur die vallei, nie meer op ‘n geloofsreis nie, maar elke daad ‘n realiteit, elke aksie ‘n werklikheid. My spiritualiteit nie meer eksperimenteel of toekomstig van aard nie, maar diep gewortel en geanker in my eenheid met God, outentiek in elke oomblik en daad. Rituele en roetines hou vir my geen waarde in nie, maar ek vind die heilige in die mees eenvoudige van oomblikke.

Dit maak nie meer saak wat ek hier in die vallei vind  of nie vind nie, hetsy gemeenskap, stad of tuiste. My hart en my gees het sy holte gevind, die veilige plek waarvandaan ek elke dag aan durf en voluit leef. Daar is een ding wat ek nie in die woestyn agtergelaat het nie en dit is die lewe in my. Ongeag my omstandighede, ongeag my gemeenskap, ongeag droogte of oorvloed … ek leef voluit.

Daagliks kies ek om kreatief uiting te gee aan die bron van lewe wat in my en deur my vloei.

My afreis ‘n reis van genade. Die vrugbare vallei ‘n plek van vrede, liefde en barmhartigheid – my hartsland. EK IS TUIS.

©Kopiereg Micelle Coetsee 2016

 

Mevrou. My vrou. Vrou.

Tags

, , , , , ,

15 Oktober 2011

Pretoria-Noord, Suid-Afrika

Vir so lank het ek probeer om hierdie sierade om my hals, skouers en polse te dra, maar ek kan net nie meer nie. Ek word geag en geëer deur my gemeenskap en familie as ‘n goddelike vrou, maar ek kan nie langer gebuk gaan onder die juk nie. Ek word op die skouer geklop en geluk gewens met my onderdanigheid aan my man, maar ek wil nie meer met ‘n geboë hoof en neergeslaande oë my lewensreis aflê nie.

Met elke tree en beweging skaaf en druk die bande wat deur ‘n patriagale stelsel op my gelê is, op my sensitiewe plekke. Wat voorgehou word as kosbare sierade wat om Mevrou se nek en polse gehang word, het hulself geopenbaar as instrumente van beheer en foltering, van verkleinering en onderwerping. Ek het oor tyd stadig maar seker myself los begin maak, die halsbandjie en die armbande afgelig en agtergelaat. Elke losmaking was as verraad geag en laat skokgolwe in hul nasleur. Verbete beur ek voort teen ysterboei en ketting, vasberade om myself te bevry van ‘n argaȉse bestel wat geen lewe en oorvloed vir my inhou nie.

Ek voel die onderstrominge en besef dat my verraad nie meer lank geduld sal word nie. Daar sal verreikende nagevolge wees. Daar is deurlopend druk om terug te keer na my ou weë, om weereens die weg te omarm. Wat staan my te doen? Waarheen vir my van hieraf aan? Gaan ek terugdraai en myself oorgee aan groepsdruk en die verwagtinge van my gemeenskap? Gaan ek myself losmaak van huis en haard, alles wat bekend en vertroud was, die plek en die mense wat vir soveel jare my tuiste was? Gaan ek my gemeenskap of myself verraai? Gaan ek finaal die mantel van Mevrou wees, van my skouers afglip?

15 Oktober 2016

Centurion, Suid-Afrika

Ek kyk met nuwe oë na myself.

Ek is nie meer “my vrou” nie, maar nou net vrou. Ek is meer vrou as wat ek ooit as my vrou was. Ek behoort aan niemand behalwe myself nie en ek kan besluit met wie ek myself wil deel, wat ek van myself wil deel en hoeveel ek gee. Niks word van my geëis op grond van my vrou wees nie. Ek gee vrywillig en met oorgawe waar en wanneer ek wil. Ek is in beheer van my lewe. Ek is in beheer van my keuses en ek leef met die noodwendige gevolge daarvan saam.

Ek is gemaklik met wie ek is, wie ek steeds elke dag word. Ek is gemaklik in my eie lyf want daar is nie meer ‘n vorm of verwagting waaraan ek hoef te voldoen nie. Ek is wie en wat ek in die oomblik wil wees. Ek is aanpasbaar, buigbaar en oop om nog meer van myself te ontdek, van myself te gee.

Ek geniet my nuwe status as bestuurder van my eie lewe en bestemming. Ek geniet, waardeer en ag die verantwoordelikhede en uitdagings. Ek geniet die nuwe moontlikhede wat daarin vir my lê.

Ek geniet my eie liggaam soos nog nooit vantevore nie. Dit behoort nou aan my om na goeddunke daarmee te handel. Dit hou hoë waarde vir my in en ek gaan met omsigtigheid daarmee om. Ek eet en leef gesonder as ooit. Ek leef meer, voel dieper, waardeer en respekteer myself en andere meer as ooit. Ek ag lewe van hoër waarde as ooit.

Ek het met moeite, inspanning en pyn uit die boeie wat my vasgehou het, gebreek. Gebuk onder die pyn van verlies van ‘n gedeelde geskiedenis, van familie en vriende, het ek vasbeslote treë vir treë vorente gebeur opsoek na ‘n holte vir my voet. Vandag, vyf jaar later kan ek terug kyk en verslae staan oor die pad wat ek gekom het tot hier waar ek my tans bevind. ‘n Pad van swaarkry, seer hê, val en weer opstaan, vashou, vasbyt, vasstaan. Ek het deur water en deur vuur gekom en dit het my nie oorweldig nie. ‘n Pad van genade onbeskryflik groot, van oorwinning, van nuwe lewe en nuwe hoop. ‘n Pad van skeiding, van swerf in niemandsland om eindelik my weg na myself te vind.

Ek het aanvanklik myself nie herken nie, so gewoond aan die spieëlbeelde en refleksies na my toe teruggekaats. Ek wou eers verbystap, aanbeweeg, verby die doodgewone middeljarige voorstedelike vrou. Daar was niks uniek, uitstaande of spesiaal aan haar nie. Sy was net nog ‘n vrou. Daar was egter iets aan haar wat my ‘n oomblik laat weifel het – ‘n atmosfeer van kalmte en rus wat haar omring het. Ongekunsteld en aards, haar vingernaels gevlek van vroetel in die grond, haar hande oop om te gee en te ontvang, haar arms uitgesprei om liefde te gee en te ontvang. Vergenoegdheid en onversteurdheid die eenvoudige hangsels om haar nek. Sielerus die mantel wat knus om haar skouers hang. En ek het geweet dat dit was wie ek wou wees…net nog ‘n vrou.

©Kopiereg Micelle Coetsee 2016

OM GENADEBROOD TE EET

Tags

, , , , , , ,

 

10 Oktober 2016

Centurion, Suid-Afrika

Wêreld Dag vir Haweloses

Brutaal uitgespoeg deur ‘n wêreld wat die welvarende en vermoënde begunstig, om op die perifeer van die samelewing in die skadus te skuil, in afwagting op aalmoese.  ETER van GENADEBROOD.

Gemarginaliseer deur die onwilligheid om rand en sent te in, om rykdomme te vergader en in skatkamers op te gaar. Wêreldsgoed en winsbejag vind ek weersinwekkend, self-verryking onsmaaklik. Materialisme en kapitalisme steek my dwars in die krop, terwyl oordrewe verbruiking en verkwisting vir my ‘n steen des aanstoots is. ‘n Deel ekonomie my droom.

My leefstyl, spartaans deur eie keuse. ‘n Geskarrel vir hulpbronne nie deel van my lewensagenda.  Ek woeker met wie ek is en is vrygewig met my tyd, aandag en liefde. Wysheid en persoonlike groei my profyt. Ek gee wat ek kan en neem wat ek aangebied word. My hand oop – om te gee en te ontvang.

Maar ek worstel met my aandeel aan ‘n teenstrydige ekonomie, my skakel wees in die wisselwerking tussen gee en neem. Ek staan soos duisternis teenoor die lig en sonder duisternis is daar geen noodsaak vir lig. Vir lig om lig te kan wees, moet duisternis, duisternis wees. Yin en yang. Lewe en dood.

Ironies, hoe duisternis, dood en neem swaar dra aan die negatiewe beeld wat semantiek hul kleur, terwyl lig, lewe en gee ligvoets en vrolik dartel en borrelend oor die tong rol. Ruimhartig en met vreugde word GENADEBROOD uitgegee, die gewer geprys en bewonder vir hul altruisme. Met die vereiste nederigheid en dankbaarheid word die brood ontvang, terwyl daar oor die ontvanger gefrons en bepeins word. Die gewer word vereer terwyl die ontvanger veroordeel word.

En tog kan die een nie van die ander geskei word nie, altwee elemente kardinaal vir die voortbestaan van die ruiltransaksie.

As aannemer van liefdesgawes, moes my ego sterf, die luukse van trots en eiewaan versaak word. Om met grasie, omgee en liefde te kan gee, vereis ook dat die ego moet sterf en nie eie eer soek nie. As gewer en ontvanger dan albei aan die eie ek moet sterf, waarom bly hierdie ruilhandel met soveel emosie belaai?

Of is die wedersydse altruisme daarin gesetel dat ek jou laat goed voel deur die genadebrood van jou te ontvang terwyl jou oop hand my fisies aan die lewe hou? My fisiese lewe vir jou ego lewe, terwyl ons genadebrood uitruil.

©Kopiereg Micelle Coetsee 2016

APPENDIKS – TER GEDAGTENIS AAN…

Tags

, , , , , , ,

28 September 2016

Cherry Berry Café, Centurion

Rondom my kwetter die vroue, kleurvolle paradysvoëls. Bekendstellings word gemaak aan nuwe lede terwyl gereelde besoekers mekaar hartelik omhels. Opgewondenheid vul die lug op die heerlike kuierstoep van die koffiewinkel waar ons bymekaar kom. Een van die kelners steek sy kop by die deur uit om bestellings te neem maar maak vinnig spore opsoek na versterkings om hom ‘n handjie te gee met die uitbundige groep.

Dit is tyd vir die weeklikse byeenkoms van ‘n groepie hekel entoesiaste. Handwerksakke word oopgemaak en die vrug van die afgelope week se liefdeswerk word op die lang tafel uitgepak. Spoedig is elke moontlike beskikbare oppervlak bedek met gehekelde vierkante en bolle breidraad in elke moontlike kleur. Vanuit al die uithoeke van die land vind brokkies vertroosting en omgee ingehekel in kleurvolle vierkante, hul weg na sentrale punte waar dit kreatief saamgevoeg word tot unieke TROOSKOMBERSE. (https://www.facebook.com/groups/217396611801205/)

Binne enkele minute is byna elke paar hande reeds weer besig om met naald en kleurvolle draad mee te weef aan die ontvouende volksverhaal, momentele verposing vir hand en mond wanneer koffie bedien word.

Ek verkyk my aan die vroue wat met soveel geesdrif, ywer en passie aan die projek meewerk, elkeen met hul eie beweegrede en bydrae. Ek voel bevoorreg om tussen hulle te kan sit, hulle verhale te kan hoor, elkeen se eiesoortige omgee te kan ervaar. Vroue uit verskillende sfere van die samelewing skuur hier skouers met mekaar, saamgebind deur hul passie vir hekel en ‘n diep omgee vir andere.

My oë gly oor die lys met name vir komberse aangevra terwyl die sameroepster terugvoer gee oor vordering met die komberse in wording en ek wonder oor die mense agter die name. Wie is die ontvanger van die vertroosting en wie is die person aan wie se lewensverhaal ons nou meewerk?

Ter gedagtenis aan…

APPENDIKS – kleurvolle  trooskomberse met liefdevolle omgee hande gemaak om vertroosting te bring in tye van trauma deur die verlies van ‘n geliefde. Appendiks tot ‘n lewensverhaal wat oor en oor onder vingerpunte gelees kan word, teen die hart vasgedruk kan word wanneer daar nie meer woorde is nie en warm om die skouers kan lê wanneer die gemis lewe uit die liggaam wring. Onder die hande van vreemdelinge vind die slot passasie beslag. Deur kleurvolle draad word vreemdelinge aanmekaar verbind en verweef tot een verhaal. Blok vir blok word tradisie gebore.

PROLOOG –  blok vir blok, kombers na kombers word die inleidend passasie tot ‘n ontvouende volksverhaal geskep. Wat hierdie verhaal behels sal net die toekoms onthul.

 Ek voel nederig in die oomblik voor die grootsheid van dit wat besig is om tot stand te kom. Ek voel vol ontsag in die teenwoordigheid van die kollektiewe omgee en liefde wat vrylik deur die hande van vroue landwyd vloei. My hart ontluik in afwagting vir die genesing wat kan volg in die nasleur van die vloedgolf van omgee en vertroosting.

Met sagte hande neem ek my naald en hekeldraad op, gerd vir die voorreg om medewerker aan die ontluikend verhaal te kan wees, steek vir steek bewustelik besig om te skryf aan APPENDIKS en PROLOOG.

  ©Micelle Coetsee 2016